Inyathelo in the Headlines

Duisende NRO’s geskrap - 15 Jan 2013 - Volksblad

JOHANNESBURG. – Die registrasie van byna die helfte van die land se nie-regeringsorganisasies (NRO’s) is die afgelope vyf maande ingetrek, sê ’n konsultant vir die regering en NRO-sektor.

Volgens Ann Bown van Charisma Consulting is meer as 35000 van die sowat 80000 organisasies van die lys verwyder, hoofsaaklik omdat hulle nie voldoen het aan die bepalings van die Wet op Nie-winsgewende Organisasies nie. Dié statistieke kom van die NRO-databasis, wat onlangs geoutomatiseer is.

Die organisasies wat geskrap is, het langer as drie jaar nie hul jaarverslae ingedien nie.

NRO’s kan wel appèl aanteken teen die besluit.

’n Voorgestelde wysiging op die wet wat NRO’s op hol het, stel sterker regulering in die sektor voor, asook ’n tribunaal om klagtes teen NRO’s te hanteer.

Volgens Bown sal die wysiging “nie so ’n groot verskil maak nie”, maar die regering in staat stel om steekproewe en hul eie oudits te doen. “Sommige geregistreerde NRO’s wat nie geld van die staat ontvang nie, is bekommerd dat die regering by hulle sal inmeng.

“Die bewoording is nie baie duidelik oor watter magte dit aan die regering sal gee nie en werkgroepe wat deel van ’n ministeriële taakspan is, het reeds begin om hul kommer hieroor te lug.”

Shelagh Gastrow, uitvoerende direkteur van Inyathelo: The South African Institute for Advancement, sê daar is onduidelikheid in die NRO-sektor oor die noodsaaklikheid van die voorgestelde wysiging. “Hoewel die departement sê hulle het NRO’s geraadpleeg, was dit net dié aan wie hulle self geld gee. Dit is net sowat 800 organisasies uit die hele sektor.

“Wat sal byvoorbeeld gebeur met aktiviste- (eerder as welsyn-) organisasies? Wantroue in die regering is ’n groot probleem. Die dokument lyk skadeloos, maar daar is ’n onderliggende gebrek aan vertroue tussen die burgerlike gemeenskap en die regering.”

- Volksblad